Thursday 29 March 2012

Praag


Tydens 'n lang treinrit vanaf Boedapest, deur Slowakye tot in die Tsjeggiese Republiek was dit opvallend hoe die landskap verander het – en beslis ten goede. Dit is lente in Europa en Praag is vir my baie groener as die ander stede waar ons was. Dis pragtig!

Praag is 'n historiese stad met 'n magiese bekoring. Ons het baie tyd in die ou stadsplein deurgebring en dis hier waar die astronomiese klok uur na uur honderde mense lok om te kyk wanneer hy die uur slaan. Dis ook hier waar ons die Praagse paasmark met sy wonderlike geure en smake aangetref het. Ons het die ou stadsplein as middelpunt gebruik, maar ook die ou deel van die stad wyd om die plein verken, want om elke draaitjie is daar net nog iets om oor in verwondering te staan.

In die kasteeldistrik was duisende toeriste en ek verstaan waarom almal daarheen wil gaan; rondom die kasteel is 'n reusagtige gotiese kerk en baie ander ou geboue en van daar af is 'n ongelooflike uitsig oor die stad. Ons het ook in die Lesser Town rondgeloop; dit is baie minder gewild as van die ander dele (en genadiglik is daar gevolglik baie minder toeriste as in die ander dele), maar ewe indrukwekkend. Vir lang rukke het ons sommer op die bankies langs die rivier gesit en vir die bote en mense en die Charlesbrug gekyk.


Foto vanaf die kasteelarea met Praag in die agtergrond.

Die ou Joodse deel van die stad het ook baie besienswaardighede, waarvan die wat my die meeste getref het seker die uitstalling van kinderkuns was. Dit is prente wat Joodse kinders tydens die Holocaust in konsentrasiekampe gemaak het. In een van die sinagoges is die name van 77 000 Tsjeggiese Jode wat tydens die Holocaust vermoor is, teen die mure van die sinagoge geverf. Dis so 'n groot onreg wat hulle aangedoen is en 'n baie hartseer, maar konkrete, manier om ons daaraan te herinner. Dit laat my ook dink aan al die ander onregte teen Jode deur die eeue heen. In Praag was daar byvoorbeeld ook 'n spesifieke ommuurde deel waar die Jode moes bly en hulle mag nie buite hierdie area begrawe geword het nie. Gevolglik is daar 'n ou Joodse begraafplaas met 12 000 grafstene en baie meer liggame wat 12 tot 15 bo-op mekaar begrawe is.

Die Tsjeggiese Republiek is baie bekend as 'n bierdrinkende nasie – veral Pilsner Urquel. Ek is glad nie 'n bierdrinker nie, maar as jy in Rome is... of te wel dan in Praag is, dan drink jy bier. Ek was egter ook baie verbaas oor die feit dat hot wine (of gluhwein soos ons dit eerder ken) oral bedien word, en dit was dan meesal my keuse vir 'n drankie.

***
Nou is die vakansie egter verby en my voete voel of dit nooit weer sal kan loop nie, maar dit was beslis die baie kilometers wat ons agter baie mooi goed aangeloop het, werd. Elke tree!

Ons het baie wonderlike dinge gesien en ervaar en baie foto's geneem. Praag was my gunstelingstad van die vakansie, en om The Kiss te sien was my gunstelingervaring van die vakansie. Ek is baie dankbaar vir die groot voorreg om so 'n vakansie te kon hê en meer nog, dat ek dit saam met die liefde van my lewe kon doen.

Boedapest


Sowat drie ure met die trein vanaf Wene lê Boedapest. Hierdie stad en Hongarye as geheel het 'n ryk geskiedenis wat meer as 'n millennium strek. Hoe nader ons egter aan Boedapest gekom het, hoe vuiler het dit geword en toe ons by die stasie uitkom, het ek my hart vasgehou. Kan dit wees? Die plek lyk dan vir my soos die gopse! En om alles te kroon het ons erg verdwaal na ons die busstop waar ons moes afklim, gemis het. Oral is ou geboue soos in Wene, maar alles is verwaarloos en vuil en skielik kan ek nie onthou waarom ons besluit het om Boedapest te besoek nie.

In die toeriste-areas lyk dit darem stukke beter en ons kom op 'n plein met 'n feestelike atmosfeer af. Dis Vörösmarty tere waar 'n lentefees aan die gang is, ons loop deur al die stalletjies en eet elkeen 'n bord warm bredie. Die Hongaarse kos is tradisioneel heerlike homey, hearty bredies met baie paprika en skielik voel ons ook sommer beter oor die stad waarin ons, ons bevind.

Die kasteelarea van die stad is vol pragtige ou geboue, alhoewel die geboue almal honderde jare ouer lyk as wat dit eintlik is – dit is die gevolg van oorloë wat die stad erg beskadig is en baie geboue is dan net weer in hul oorspronklike styl oorgebou. Hier is dus baie geboue wat lyk asof dit uit die 15de eeu dateer, maar inderwaarheid in die 20ste eeu gebou.


 Ek en Rudolph voor die kasteel in Boedapest.

Ek hou vreeslik baie van die Fishermen's Bastion. Dit het egter nooit as 'n skansmuur gedien nie, maar eerder as 'n uitkykpunt. Die muur is in 1895 gebou en sy torings is so ontwerp om aan die Magyars (die eerste inwoners van Hongarye) se tente te herinner. Van hier af is 'n pragtige uitsig oor die stad en die parlementsgeboue wat seker Boedapest se bekendste landmerk is.


 Fishermen's Bastion

Die millenniummonument is 'n baie indrukwekkende monument wat in 1896 gebou is om die eerste duisend jaar van die land se geskiedenis te herdenk – dis nou sedert Prins Arpad hom in 896 daar gevestig het. Daar is beelde wat die verskeie heersers van die land uitbeeld.

As deel van die millenniumvieringe in 1896, is die Vajdahyad-kasteel 'n tydelike struktuur opgerig, maar dit was so gewild dat dit later met 'n permanente struktuur vervang is. Dit is 'n aantal kerke en geboue wat verskillende eras uit die land se argitektoniese geskiedenis voorstel. Ek was mal oor die hele kompleks en die sprokiesagtigheid daarvan.

Alhoewel ek wonderlike dinge in Boedapest gesien en ervaar het en dit baie geniet het, dink ek nie ek sal sommer weer teruggaan soontoe nie.

Wednesday 28 March 2012

Wene


Ons het via Schipollughawe in Amsterdam na Wene gevlieg en dit baie maklik reggekry om met 'n bus tot by Westbahnhofstasie te kom en vandaar met trem 52 tot basies reg voor die hotel. Na ons die kaarte en gidse oor die stad bestudeer het, het ons besluit om die aand in Stephansplatz te spandeer. Dis hier waar my eerste indruk van Wene gekry het.

Die eerste gesig wat jou begroet as jy uit die stasie op die plein kom, is 'n majestueuse gotiese katedraal – Stephansdom. Hierdie gebou dateer uit die jaar 1147, maar is deur verskeie oorloë deur die eeue beskadig en telkens weer herstel.

Hierdie plein en katedraal het dan ook ons verwysingspunt in Wene geword, alhoewel ons eers twee dae later die binnekant van die katedraal besigtig het. Stephansdom sal waarskynlik altyd die eerste ding wees waaraan ek dink as ek aan Wene dink.

Die ander bekoring wat die stad vir my ingehou het, het ek ook die eerste aand beleef. Die romantiese gevoel van die stad wat jou aan 'n ou film herinner wanneer jy in die straatjies en deurgange loop. Ons het tradisionele Weense schnitzel in 'n restourant se kelder geëet wat diep onder die grond is – asof dit die kelder se kelder was.

Figlmuller – die restourant met heerlike Weense schnitzel. 

Rudolph in die kelder waar ons tafel in Figlmuller was.


Ons het die hele Schonbrunn-paleiskompleks plat gestap, deur sy reusetuine met beelde en fonteine om elke hoek en draai, tot by die Neptunefontein en die Gloriette heel bo op die koppie vanwaar jy 'n pragtige uitsig oor die stad het. Tydens 'n toer van die paleis het ons baie oor die geskiedenis van die stad en die Hapsburgs, wat 'n belangrike koninklike familie in die Europese geskiedenis was, geleer.

'n Gedeelte van Schloss Schonbrunn gesien tussen die winterbome deur.

Ek weet nou dis waar wat Mark Twain gesê het: The best coffee in Europe is Vienna coffee – compared to which all other coffee is fluid poverty, want by die Naschmark het ek die lekkerste koffie nog ooit gedrink.

My hoogtepunt van Wene (en moontlik die hele vakansie) was die oomblik toe ek my oë op 'n oorspronklike werk van Gustav Klimt in Oberes Belvedere ('n paleis wat nou 'n kunsgalery is) gelê het. Sy werk, The Kiss, is een van my gunsteling skilderye ooit, en om dit in lewende lywe te sien, was 'n voorreg wat my hart sommer warm laat klop het.

'n Poskaart van my gunsteling skildery - Gustav Klimt se The Kiss.

Ons het baie tyd in die stad spandeer om sommer net rond te loop en op trappe of bankies te sit en alles rondom ons in te neem. Wene het my aangenaam verras en ek sal enige dag weer die stad besoek.

Reisjoernaal


Ek en my Liefie het die groot voorreg gehad om die afgelope elf dae in drie Europese stede te spandeer. Vandat ons getroud is praat ons al van so 'n vakansie en eindelik het ons nou die geleentheid gehad om dit te doen.

Beide ek en my Liefie was al voorheen in verskeie Europese stede, alhoewel geen daarvan ooreenstem nie, dus het ons besluit om plekke te besoek waar nie een van ons al was nie. Na 'n bietjie navorsing en opleeswerk op die internet het ons op Wene, Boedapest en Praag besluit. Die geskiedenis van hierdie stede wat oor honderde jare strek en die argitektuur wat deel van daardie geskiedenis is, het alles bygedra tot die keuse van ons vakansiebestemming.

Natuurlik kan ek nie hier elke detail van elke, gebou en landskap, smaak en reuk, en gevoel en ervaring weergee nie, maar ek kan wel van die hoogtepunte en algemene indrukke vertel.

Iets wat op al drie die stede van toepassing is, is die vervoerstelsels. Alhoewel dit nie oral ewe modern is nie, is dit wel oral baie doeltreffend. Dit baie maklik om met openbare vervoer oor die weg te kom – van die baie moderne moltreine en trems in Wene tot die in Boedapest wat al baie oud is. Boedapest was die tweede stad in die wêreld wat ondergrondse treine gehad het (naas die in Londen) en dit sal my nie verbaas as die treine hier nog uit die kommunistiese bewind kom nie - dit lyk nie mooi nie, maar dit werk goed.


'n Stokou ondergrondse trein in Boedapest.

Tuesday 04 October 2011

Haal jou masker af!


Die naweek hoor ek van 'n kennis se selfmoordpoging en my eerste gedagte is: "Hoe kon sy? Sy lyk dan altyd so in beheer van haarself en haar lewe".  Ek dink aan 'n gesinsmoord wat 'n paar weke gelede in die landgoed waar ons woon plaasgevind het, en ek lees in die koerant hoe die man se familie sê dat hulle 'n gelukkige gesin was.

Ek besef hoe maklik dit is om 'n masker op te sit, om mense te laat sien wat jy hulle wil laat sien. As jy hulle wil laat dink dat jy in beheer van jou lewe of 'n gelukkige gesin is, dan is dit wat die wêreld sal sien. Want ons almal dra die maskers wat ons die beste pas.

Ons sit die maskers op wat mense tevrede sal stel, maskers wat blyk dat ons, ons beste by die werk en by die huis gee, en maskers wat ons op ons beste laat  lyk en vriendelik met die mense om ons laat wees. 

Maskers is beelde wat ons skep en waaragter ons skuil; emosionele beskermingsmeganismes om voor te gee alles gaan goed in hierdie stukkende wêreld waarin ons leef. Ons dra maskers om voor te gee ons is wie en wat die wêreld van ons verwag om te wees, omdat ons te bang is vir verwerping wanneer ons nie aan daardie verwagtinge voldoen nie. As ons maskers dra verloor ons ook wie en wat God ons gemaak het om te wees, insluitende ons talente. In die proses om te wees wat die wêreld van ons verwag, onderdruk ons dalk ons gawes en passies –  en waarskynlik ons eie geluk.

My wens is dat ons almal sonder maskers sal leef en die wêreld sal toelaat om te sien wie en wat ons is – of dit nou aan die wêreld se standaarde voldoen of nie. Ons moet ook nie skroom om ons pyn en hartseer te openbaar nie. As ons sonder maskers leef en mekaar sonder ons maskers aanvaar, sal dit nie nodig wees om voor te gee jy is in beheer van jou lewe en die dag as die masker te swaar word om te dra, 'n selfmoordpoging kos om hulp te kry nie.  As dit vir die wêreld aanvaarbaar was om te weet dat hulle nie 'n gelukkige gesin was nie, was hulle dalk nou nog 'n lewende gesin.

Monday 11 July 2011

Deur die venster van myself

Ek is 'n gereelde besoeker van deavondurenvanjoost en ek geniet sy foto's baie. Daar is egter een foto wat hy in Junie gepubliseer het waarna ek keer op keer terugkeer omdat dit my aan die dink gesit het. Met Joost se toestemming plaas ek dit hier en deel 'n stukkie van hoe ek dit sien.


Hierdie foto het my baie laat dink aan hoe ons na die wêreld, na mense en na aangeleenthede kyk. So dikwels is ons vasgevang in ons eie lewe, ons eie dinge en ons eie denke dat ons nie dinge buite onsself sien soos dit werklik is nie.

Ek weet my bogenoemde stelling is baie beredeneerbaar en dat 'n mens dit doodeenvoudig persepsie kan noem. (Ek weet ook dat dit sekerlik baie teenstrydig is om my siening oor persepsies te deel, want dit is immers net my persepsie.)

Hierdie foto het my egter daaraan laat dink dat ons soms ons eie persepsies moet ondersoek om seker te maak ons denke is nog in ooreenstemming met die werklikheid.

Kom ons was gereeld ons vensters, sodat ons dinge kan sien soos dit werklik is. Ons moet dit doen sodat ons nie 'n vuil kol op ons eie vensters sien dink dit is eintlik op die venster aan die oorkant is nie. (Dit laat my ook 'n bietjie aan die Bybelse analogie dink van dat ons eers die balk uit ons eie oë moet verwyder.)

Net so voel ek dat wanneer ons deur die hortjies van ons eie vensters kyk, ons mense en dinge in boksies plaas waar hulle nie hoort nie. Kom ons skuif die venster sommer heeltemal oop sodat ons die groter prentjie kan sien.

Friday 01 April 2011

Aprilgek

Vanoggend maak ek Nuus24 oop en lees die berigte se opskrifte om te kyk watter een hul Aprilgek-grappie vir 2011 is.  Ek kom toe op die berig af oor die boetes wat vir vuil motors gehef gaan word (sien Boetes kom vir vuil motors).

Wat my meer amuseer as die flou grappie, is hoe ernstig mense dit opneem. Die kommentaar op die berig gaan alles oor hoe belaglik dit is en dat die regering eerder op dienslewering moet fokus en dat dit net 'n geldmaakstorie is. Dalk is dit 'n bewys van hoe mense vaskyk in dat wat verkeerd is in die land, dat hulle nie grappie kan raaksien as hulle dit lees nie.

Nuus24 behou die reg voor om elke persoon se kommentaar te modereer en ek reken dit is die rede waarom my kommentaar (April fool!) nie opgelaai is nie – hulle wil waarskynlik eers nog 'n paar humeure en reaksies ontlok.

Friday 25 March 2011

Ek kyk op na die berge

Ek is al twee (baie besige) weke agter die tyd met wat ek al wou en moes skryf. Dis juis my besige, gejaagde lewe, wat my weer laat terugdink aan die heerlike, rustige en ontspanne naweek van twee weke gelede waaroor ek wil skryf.

Dit was naweek wat ek iets van die Psalmdigter se ervaring beleef het. Ek het opgekyk na die berge en geweet waarvandaan my hulp kom. My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Ek het die grootheid van die berge aanskou en die pragtige natuur ingedrink – en ek weet dat die Almagtige God, wie se grootheid maar net deels in die pragtige berge manifesteer, my hulp is. (Daar is ook soveel ander wonderlike werke waarin ek Hom daagliks sien en mee geseën word.)

Dit was 'n naweek waar ek midde-in hierdie pragtige grootheid sommer net kon lees en ontspan, na die mooi natuur en veral die amfiteater kyk, en lekker saam met my Liefie en goeie vriende kuier. Ons het die heerlike voorreg gehad om in die Mahai Kamp van die Royal Natal National Park te gaan kamp.

Ons het ver gery, ons op slegte paaie met baie padwerke bevind; Sondagoggend het ons in reënweer kamp opgeslaan voor ons weer die terugtog aangepak het, maar die kort rukkie het my batterye herlaai en herinner waar my hulp vandaan kom.

Thursday 27 January 2011

Angela's Ashes

Vanaf dag een wat ek my skoonma ontmoet het, weet ek dat haar gunstelingboek van alle tye Angela's ashes is. Ek weet dat sy haar nie die lewe sonder die boek kan indink nie. En ek weet dat sy wil hê almal wat sy ken moet die boek lees. Dit is waarom sy nog 'n kopie van die boek gekoop het en vir my gegee het om te lees.

Ek het die boek met 'n verwagting begin lees – 'n verwagting aan 'n wonderlike storie wat briljant geskryf is. Wat ek gevind het, is een van die neerdrukkendste boeke wat ek nog gelees het. Daarmee saam is dit egter ook fassinerend, hartverskeurend en brutaal eerlik teen 'n agtergrond van armoede en swaarkry. Angela's ashes is Frank McCourt se memories van sy grootwordjare tydens die depressie en oorlog in 'n land (Ierland) wat in die wurggreep van tradisie, toenemende armoede, werkloosheid en die Katolieke kerk staan.

Die armoede, die swaarkry, die honger, die vuil klere en die stukkende skoene ruk aan my hart. Die feit dat 'n seuntjie van kleins af moes pa staan vir 'n gesin en moes steel om kos op die tafel te kry, is net so verkeerd. Daar is 'n toneel waar die gesin van vyf persone 'n eier ('n eier!) deel en ek kan my dit nie indink nie. Tog besef ek dat dit in daardie tyd die realiteit in Ierland was. Dit laat my met dankbaarheid kyk na wat ek het en hoe maklik ek dit eintlik in die lewe het.

Die rol wat die Katolieke kerk in die boek (en in werklikheid) speel, maak my met tye briesend! Na sy eerste nagmaal, sê Frank dat hy nou amptelik deel van die ware geloof en amptelik 'n sondaar is, die gedagte aan sy sonde laat hom altyd voel dat hy verdoem is. Op 'n keer het hy vir meer as 'n jaar nie sy sonde aan die priesters bely nie, omdat hy te skaam was daaroor en die kerk het hom so geïndoktrineer dat hy dikwels vas geglo het hy is reguit op pad hel toe daaroor. Vir meer as 'n jaar lank loop hy met 'n berg op sy skouers rond by die gedagte aan sy verdoeminis. Wanneer hy wel op 'n keer sy sonde wou bely, word 'n deur in sy gesig toegemaak. Ek wil nie ander denominasies of gelowe afpraat nie, maar die boek het my weer laat besef hoe geseënd ek is om enige tyd, enige plek direk met my God te kan praat.

Na Frank se 19de verjaardag het hy genoeg geld bymekaar gemaak en gaan Amerika toe.  Dis ook waar die verhaal eindig – by sy eerste aand in Amerika. Die verhaal het my tog met 'n verwagting en 'n hoop gelaat dat daar vir hom 'n beter lewe gewag het. En dit klink vir my of dit wel die geval was. Ek lees op Wikipedia dat hy later aan die New York University gegradueer het, hy het op 66-jarige ouderdom begin skryf en verskeie pryse vir sy werk ontvang voor hy in 2009 oorlede is.

Angela's ashes is nie 'n mooi storie nie, maar dis 'n wonderlike verhaal en ek kan verstaan waarom my skoonma so gek oor die boek is.

Friday 07 January 2011

Life of Pi

Dit het my byna 'n maand geneem om die eerste 50 of so bladsye van Yann Martel se Life of Pi te lees, maar toe ek eers by die deel kom waar die hoofkarakter, Pi, saam met 'n Bengaalse tier op 'n reddingsboot beland en vir 227 dae om oorlewing veg, kon ek nie die boek neersit nie.
                                      
Pi is die enigste oorlewende van 'n skip wat gesink het, en Japannese amptenare luister na sy storie om die rede waarom die skip gesink het, te bepaal. Eers vertel hy van al die diere wat saam met hom op die reddingsboot was en hoe hy en Richard Parker (die Bengaalse tier) oorleef het en hoe die ander diere mekaar uitgemoor het. As hulle hom nie glo nie, vertel hy nog storie. Die keer was hy saam met drie ander mense op die reddingsboot, en is dit net hy wat oorleef, omdat die mense mekaar ter wille van oorlewing uitgemoor het.

Life of Pi is 'n verhaal wat my beide vermaak en verstom het; dit is 'n fantasie-avontuurverhaal waarin Pi, 'n Indiese seun, kwessies soos spiritualiteit en realisme van 'n jong ouderdom af ondersoek. Ek dink die boodskap van die verhaal het iets te doen met die manier waarop stories vertel word en die manier waarop jy na jou wêreld kyk en dit ervaar teenoor die werklikheid. Pi se eerste storie was baie minder geloofwaardig as sy tweede storie, maar tog was dit die verkose een omdat dit meer verbeeldingryk was.

Vir my sê dit iets van hoe 'n mens se verbeelding ware ontvlugting van die werklikheid kan wees, maar dat as jy op God gefokus bly, nie nodig het om van die werklikheid te ontvlug nie, omdat Hy jou keer op keer sal laat oorleef in moeilike omstandighede. Dit is 'n triomfantlike storie wat jou, soos Pi dit op een plek stel, in God sal laat glo.